Vonkelvrou

Print
22
Apr

SKUD DIE VERLEDE AF

Sukkel jy om nuut te begin en die verlede agter jou te plaas? Moenie alleen voel nie, daar is niemand van ons wat nie met letsels van die verlede loop nie.  Daardie ontsierlike riwwe van seerkry en teleurstelling wat so ineengeweef met jou menswees is ...

Wonder jy wat die mense sal se as hulle jou verwonding sien?  Sal hulle nog vir jou lief wees en jou aanvaar?  Alles kom tot 'n einde, ook hierdie gesukkel om nuut en oor te begin.  Dit gaan dalk harde werk van jou kant af wees, maar dis die moeite werd.

Soos vrugtebome elke jaar gesnoei word om optimaal te produseer, so is dit ook belangrik dat ons die dooie en onvrugbare takke in ons lewens uitsny.  Gebruik jou tyd om op dinge te fokus wat regtig belangrik is.  Aanvaar die seisoene in jou lewe, dis deel van die gang van tyd.  Moenie bang wees om weer seer te kry nie.  Dikwels laat hierdie vrees mens sonder die energie om op die positiewe te fokus.  Aanvaar die realiteit en besef dat daar 'n toekoms vol positiewe dinge op jou wag.  Skuif die stuikelblokke eenkant toe en moenie bedreig voel en vrees dat jy onsuksesvol sal wees in jou strewe na 'n nuwe lewe nie.  Sien raak wat jou terughou, vermy negatiewe mense en omring jou deur mense wat positief in jou lewe kan bele.  Konfronteer jou probleme en besluit om jou fokus te verander: nie meer gister se dinge nie, maar nou en more se drome.  Maak die HERE deel hiervan en jy sal verseker suksesvol wees.

Baie seen  en voorspoed vir jou

ESTELLE