Vonkelvrou

Print
27
Oct

EMOSIONELE INTELLIGENSIE

DR TESSA VAN WIJK is weer vanoggend saam met my in die ateljee en vandag gaan die gesprek oor EMOSIONELE INTELLIGENSIE.

Die eerste spontane vraag wat gevrae kan word, is WAT is emosionele intelligensie?  Dit is die vermoë om emosies te ervaar en te verstaan, van jouself en van ander mense, om onderskeid te tref tussen sekere emosies en dit op die naam te noem, die vermoë om jou emosies uit te druk en te beheer.  Dit is ook die vermoë om na ander te luister, met ander te kommunikeer, jouself te motiveer.  Dit is om deur te druk wanneer dinge swaar gaan (deursettingsvermoë), die regte keuses te maak TEN SPYTE VAN  jou emosies en om emosioneel bewus te wees van ander mense se swaarkry.

Om emosioneel intelligent te wees moet jy jouself ken.  Jy moet jouself verstaan en 'n goeie verhouding met jouself he.  Jou selfbeeld is ook belangrik.  Baie mense dra hulle hele lewe lank 'n masker om iets weg te steek, dalk 'n groot seer waarvan niemand moet weet nie. So baie energie word aan voorgee bestee dat ons soms vergeet om te lewe en die lewe te geniet.

Die belangrikste rondom emosionele intelligensie is om selfgeldend te wees - dit beteken om genoeg selfvertroue te he oor wat JY in die lewe wil hê en dit te kommunikeer.  Dit beteken nie noodwendig dat jy altyd jou manier van dinge doen gaan kry nie, maar leer om 'n kompromie aan te gaan.

Selfgeldende gedrag is NIE om 'n "pleaser" te wees nie, moenie passief wees deur konflik te vermy of te voel jy is hopeloos nie.  Moenie aggressief wees en almal verskree nie en moet ook nie manipulerend wees nie.

Selfgeldende gedrag is die feit dat jy eerlik kan kommunikeer, jou woede beheer, op jou regte staan.  Jy kyk altyd na oplossings, stel jou grense.  Mense respekteer jou want jy respekteer hulle. Jy gee om vir jouself en ondermyn nie jou behoeftes nie.

As jy emosioneel intelligent is, sal jy sit ook aan jou kinders oordra en sodoende emosionele volwassenes die wêreld instuur.

Dr Tessa van Wijk se kontakbesonderhede is:

Selnr: 082 804 9886, Twitter:  AskDocTessa, Facebook: Doc Tessa en E-pos: doctessa@gmail.com.

Tot volgende keer, mooi bly.

ESTELLE