Vonkelvrou

Print
18
Oct

HOEKOM HUIL MY BABA?

Niks is so belangrik soos jou baba nie.  Wanneer jou baba huil, is dit sy manier van kommunikasie. Hou in gedagte dat jou baba vir 9 maande veilig, warm, gekoester en versadig was.  Hy het jou stem gereeld gehoor, die geluid van jou hartklop en die ruising van bloed deur jou are.  Nou word jou baba gebore en is in 'n heel nuwe omgewing wat totaal onbekend is en hom ook onveilig kan laat voel.  Jou baba sal nie huil as daar niks fout is nie. 

Harde musiek, helder ligte, te veel aanraking van vreemdelinge is alles dinge wat jou baba onveilig kan laat voel en ook die lyfie kan uitput.  Vel tot vel kontak is ook baie belangrik, jou baba wil jou voel.

Moenie jou pasgebore baba se gehuil ignoreer nie.  Hoe gouer jy reageer, hoe vinniger sal jou baba veilig en geborge voel.  Tel hom op, sus hom, praat met hom.  Kyk dat sy doek droog is, hy voldoende gedrink het en daar nie dalk strokies aan sy klere is wat dalk krap nie.  Maak ook seker sy doek is nie te styf nie en dat al die winde uitgeklop is na 'n voeding.

Redes wat dalk kan veroorsaak dat baba huil is o.a. 'n gevoel van alleenheid, honger, ongemaklik, voel siek of/en het pyn en koliek.  Moenie jou baba elke 4 ure voed nie, voed hom op aanvraag.  Onthou wat ek in die begin geskryf het, hy ken nie die gevoel van honger nie, ook nie koue en eensaamheid nie.

Neem jou baba dokter toe indien jy onrustig voel. 

Geniet jou baba en vra hulp as jy voel jy kan nie alles hanteer nie.  Nageboortelike depressie onder mammas is nie ongewoon nie en niks om oor skaam te wees nie.  Gaan sien jou dokter en kry hulp, maar moenie jou baba verantwoordelik hou en afskeep nie.

Geniet jou baba.

ESTELLE